Namibiese gesondheidsministerie kan nie rekenskap van 229 voertuie gee

Vir ten minste 229 voertuie wat aan die Namibiese gesondheidsministerie behoort, kan nie rekenskap gegee word nie, volgens die ouditeur-generaal, Junias Kandjeke. Die uitvoerende direkteur in die gesondheidsministerie, Ben Nangombe het die ouditeur-generaal ingelig dat die ministerie 1 876 voertuie besit. Volgens die meesterlys van die ministerie besit dit 1 647 voertuie. Die 2019-2020 ouditverslag is onlangs aan die Nasionale Vergadering voorgelê vir ondersoek, en daarvolgens het Nangombe hul versuim om rekenskap te gee, op Covid-19 geblameer. Volgens die ouditverslag het die ministerie 75 voertuie ter waarde van 4,6 miljoen Namibiese dollar tydens dié oudittydperk afgeskryf. Die ministerie het glo ook 47 miljoen dollar bestee sonder goedkeuring van die tesourie.