Namibiërs moet deelneem aan begrotingsoorsig

Die begroting is die belangrikste en mees deurslaggewende instrument in die land se ontwikkelings-agenda aangesien dit ‘n duidelike aanduiding gee van hoe die land se beperkte hulpbronne toegewys gaan word. Openbare betrokkenheid by die nasionale begrotingsproses in die land bestaan volgens navorsing nie juis nie. Dit is van kardinale belang dat die besluit oor hoe hulpbronne toegewys en bestee word, deur die land se burgers, insluitend die sakegemeenskap, beïnvloed word. Daarom nooi die Namibiese Kamer van Koophandel en Nywerheid die publiek uit na ‘n virtuele middel-termyn begrotings-oorsigkonsultasie Donderdag met die ministerie van finansies. Die publiek se insette word verwelkom om die begrotingsproses te beïnvloed om ‘n beter ekonomie te bou.