Nam-owerhede ontleed monsters van maagversteurings

Terwyl Suid-Afrika sukkel met ingewandskoors het Namibië ook uitdagings met maagversteurings in Swakopmund en Windhoek. Volgens die jongste berigte het die gesondheidsministerie monsters geneem om te toets. Van die gevalle se braking en diarree is so intens dat pasiënte in die hospitaal opgeneem is. Die swak sanitasie in informele nedersettings met die goeie reën word grootliks vir die uitdagings blameer. Dit is ook hoe hepatitis E uitgebreek het in die land in Desember 2017. Intussen sê owerhede in die buurland daar is geen rede vir paniek nie. Dit is volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes nadat verskeie voorvalle in Gauteng, die Wes-Kaap en Noordwes aangemeld is. Dr. Juno Thomas van die instituut sê die siekte, ook bekend as buiktifus, kom hoofsaaklik in gebiede voor waar swak higiëne toegepas word en daar ‘n tekort aan skoon drinkwater is.