Nam-huweliksraad wil nasionale konferensie hou

Die hiper-konserwatiewe Namibiese Huweliksraad, wat in Rundu gesetel is, vra dat alle wetgewing in verband met huwelike in Namibië eers op ys geplaas moet word sodat ‘n nasionale konferensie gehou kan word. Paulus Hawanga, stigter van die raad, sê die kwessies rondom huwelike en die hoë egskeidingsyfer moet bespreek word. Die wetgewing rondom egskeidings word op die oomblik voorberei vir debat in die Nasionale Vergadering. Die wetsontwerp poog om dit goedkoper en makliker vir partye te maak om te skei. Hawanga sê verder daar is ander uitdagings wat tans kop uitsteek soos aborsie, selfdegeslag huwelike en meer wat ook onder die loep moet kom. Hy voeg by dat siviele huwelike wat in howe aangegaan word verbied moet word en dat die land se tradisies eerder eerbiedig moet word, saam met die Grondwet.