Nam-diamante is veilig, geen rede tot kommer nie

Die Goewerneur van die Bank van Namibië, Johannes !Gawaxab, sê die meeste van Namibië se diamante is veilig vir handel ondanks die voortslepende konflik tussen Rusland en die Oekraïne. Daar was kommer uitgespreek oor ‘n moontlike boikot van diamante wêreldwyd deur verbruikers. Inge Zaamwani-Kamwi, ‘n voormalige besturende direkteur van Namdeb, sê die uitbreek van die oorlog sal ‘n direkte uitwerking op die uitvoer van Namibiese diamante hê. Die VSA het die invoer van diamante van Rusland se deels staatsbeheerde diamant mynmaatskappy ALROSA verbied dus kan klante van Russiese diamante nie meer diamante koop nie weens die sanksies teen ALROSA en die sluiting van betalings deur Visa en Mastercard. Hierdie verbruikers kan begin beroepe doen om diamante te boikot. !Gawaxab sê die bank is deur De Beers verseker dat Namibiese diamante veilig is omdat De Beers Blockchain-tegnologie gebruik om sy diamante te beskerm, met 60 persent van De Beers-diamante wat nou deur die stelsel geïdentifiseer kan word. Die tegnologie identifiseer diamante wat eties ontgin is.