NAC reageer op Qatar-berigte

Die aankondiging dat Qatar Airways direkte vlugte vanaf Doha na Windhoek in Julie gaan hervat, is ‘n stap in die regte rigting, volgens die Namibiese Lughawensmaatskappy en die toerismesektor. Dit volg ná President Hage Geingob ‘n vergadering met Qatar Airways se uitvoerende hoof, Akbar Al-Baker, in Katar se hoofstad, Doha, gehad het. Die lugredery het vier vlugte per week na en van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako voor die Covid-pandemie gehad. Qatar Airways het sy kantore in Windhoek in 2020 weens die pandemie gesluit. Dan Kamati, woordvoerder van die lughawensmaatskappy, sê hulle sien uit na meer lugrederye wat weer hul vlerke in Namibië gaan sprei.