Naaldekokers dalk besig om uit te sterf

Die vernietiging van vleilande veroorsaak dat naaldekokers wêreldwyd al minder word. Dit is volgens die Internasionale Unie vir Natuurbewaring se jongste rooilys van bedreigde spesies ná sy omvattende ondersoek oor hierdie kleurvolle groep insekte. Die unie se woordvoerder, Bruno Oberle, sê die afname in getalle is simptomaties van die wydverspreide verlies aan vleie, moerasse en vry-vloeiende riviere waar hulle uitbroei. Dit word veroorsaak deur die uitbreiding van onvolhoubare landboubedrywighede en verstedeliking in die wêreld. Oberle sê hierdie ekostelsels verdwyn drie keer vinniger as woude.