Na 7 jaar erken Thomas hy het Heckmair geken

Skokkende getuienis het na vore gekom in die moordsaak van Andre Heckmair, wat nou reeds sewe jaar in die hof draai, 11 jaar na die moord. Die twee Amerikaners, Kevan Townsend en Marcus Thomas, word van Heckmair se moord aangekla. Vir die eerste keer het Thomas erken dat hy Heckmair geken het. Dit kom na getuienis deur Bianca, Heckmair se suster, dat haar broer ‘n middagete afspraak met die twee Amerikaners gehad het. Volgens Thomas was dit ‘n besigheidsverhouding. Bianca het getuig dat Andre die twee by ‘n restaurant in Klein Windhoek sou ontmoet maar dat sy later deur die polisie gekontak is dat haar broer dood in sy motor, ook in Klein Windhoek maar nie naby die restaurant nie, gevind is. Sy het aan die hof gesê Andre het die twee beskryf as vriende van sy tyd in New York. Thomas sê Heckmair het nie opgedaag nie. Die verhoor duur vandag voor regter Christie Liebenberg voort.