N$2m se heroïen, vanuit Namibië, in SA gevind

Polisielede by die Vioolsdrift-grenspos in Suid-Afrika het dwelmhandelaars ‘n groot slag toegedien nadat hulle beslag gelê het op heroïen met ‘n beraamde straat waarde van 2 miljoen Namibiese dollar. Volgens die Suid-Afrikaanse polisiediens het ‘n 30-jarige minibus taxibestuurder oor die grens vanaf Namibië die buurland net na middernag Maandagoggend binnegekom in ‘n Toyota Quantum-minibus. Sy voertuig is deursoek en die dwelms is onder die bestuurdersitplek ontdek. Die man, wat afkomstig is van Philipi in Kaapstad, het aan owerhede gesê hy is versoek om die pakkie in Kaapstad af te lewer. Hy sal binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn op aanklag van handel in dwelms. Terwyl die man owerhede in Namibië ontduik het, raak die toenemende voorkoms van dwelms in die land, volgens kenners, kommerwekkend.