N$14m aan SA van Nederland, vir pandemie

Terwyl Nederland sy bevolking ingeperk het, het die land 14 miljoen Namibiese dollar aan Suid-Afrika se Solidariteitsfonds geskenk. Die fonds is in Maart 2020 begin om in die stryd teen Covid-19 te help. Die buurland se minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, sê sy is oor die geldelike hulp ingelig toe sy verlede maand met die Nederlandse minister van Buitelandse Sake, Ben Knappen, in Den Haag samesprekings gevoer het. Pandor sê Nederland het van die begin af ‘n sleutelrol gespeel in Suid-Afrika se stryd teen die pandemie. Die Solidariteitsfonds het sover skenkings van 3,4 miljard Namibiese dollar ontvang en het reeds 2,6 miljard uitbetaal.