N$1,2 miljard belê in hernubare energie – DBN

Die Ontwikkelingsbank van Namibië het tot op hede hernubare projekte in die land met 1,2 miljard Namibiese dollar befonds. Die bank se hoof van bemarking en korporatiewe kommunikasie, Jerome Mutumba, sê die befondsing van hernubare projekte is daarop gemik om die land se afhanklikheid van ingevoerde krag te verminder. Namibië se grootste kragopwekkingsfasiliteit, die Ruacana hidroëlektriese aanleg, is afhanklik van die vlakke van die Kunenerivier wat die afgelope twee jaar uiters swak was en met meer as 80 persent gedaal het. Namibië is ‘n netto invoerder van elektrisiteit uit Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse kragpoel. In Desember 2021 het die land 89 054 megawatt-uur opgewek, maar moes 263 899 meagwatt-uur invoer.