N$100 miljoen nodig vir opgradering van Zambezi Waterfront Toerisme-park

Sowat 100 miljoen Namibiese dollar is nodig om die vervalle Zambezi Waterfront Toerisme-park op te gradeer om dit op gelyke voet met ander internasionale toerismeparke te bring. Die toerismepark, wat in Katima Mulilo in die Zambezi-streek geleë is, het sy deure in 2016 gesluit ná bewerings van wanadministrasie. Die regering het 189 miljoen dollar bestee vir die ontwikkeling van die park. Namibia Wildlife Resorts se besturende direkteur, dr. Matthias Ngwangwama, het gesê hulle benodig 100 miljoen dollar om die toerismepark op te gradeer om reisigers in die streek te lok. Ngwangwama het ‘n beroep op plaaslike en internasionale beleggers gedoen om ‘n publiek-private vennootskap te vorm om te belê in die opknapping van die fasiliteit. Hy het gesê die Zambezi-waterfront is in ‘n strategiese gebied geleë en is ‘n poort na SAOG-lande soos Botswana, Zambië en Zimbabwe.