‘n Miljoen mense woon Pous Franciskus se mis in DRK by

Sowat ‘n miljoen mense het na raming Pous Franciskus se opelug mis buite Kinshasa in die Demokratiese Republiek die Kongo bygewoon. Dit is die eerste besoek deur ‘n pous aan die DRK in meer as 37 jaar. Sowat die helfte van die land se burgers is Katoliek, wat dit die grootste Katolieke gemeenskap in Afrika maak. Die pous het tydens die mis ‘n oproep om vrede in die Kongo gedoen, en gesê strydende partye moet mekaar vergewe en hul opponente ‘n ‘amnestie van die hart’ toestaan. Dit is vermoedelik die pous se tweede grootste mis tot dusver, naas ‘n byeenkoms in die Filippyne in 2014. Pous Franciskus het ook met die Kongolese president, Félix Tshisekedi vergader. Hy het tydens ‘n toespraak die historiese uitbuiting van Afrika se hulpbronne veroordeel, en dit as ekonomiese kolonialisme bestempel.