‘n Derde van SAOG-vroue word ten minste een keer fisies mishandel

Die mees oorheersende vorm van geweld in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is emosionele geweld, het ‘n omvattende geslagsgeweld-studie van 2018 aan die lig gebring. Die studie is by die slypskool oor geslagsgeweld vir die Nasionale Vergadering se parlementêre staande komitee oor geslagsgelykheid, maatskaplike ontwikkeling en gesinsaangeleenthede aangebied. Dit is daarop gemik om inligting saam te stel oor die voorkoms van geslagsgeweld en sy verskillende vorme in die SAOG-streek. Die studie het bevind dat 26,8 persent van die respondente emosioneel mishandel is, terwyl 11,2 persent van respondente fisiese geweld en 12 persent seksuele geweld ervaar het. Volgens die studie het 33 persent vroue tussen 15 en 49 wat saam met iemand bly, ten minste een keer in hul leeftyd fisieke en/of seksuele geweld van hul intieme maats ervaar.