Muheua word Vrydag begrawe

Wyle Alpheus Muheua sal Vrydag by Otjongundu-nedersetting in die Daures-kiesafdeling in die Erongo-streek ter ruste gelê word. Dit was volgens berigte Muheua se laaste wens om langs sy moeder begrawe te word. Sy eerste gedenkdiens sal Woensdag by die Holy Rosary Rooms-Katolieke Kerk op Swakopmund gehou word, terwyl ‘n tweede gedenkdiens by wyle Muheua se woning by Otumue-nedersetting in die Daures-kiesafdeling sal plaasvind. Die 65-jarige Muheua is verlede week in Swakopmund aan Covid-19-komplikasies oorlede. Hy het baie lank as die president van die Nasionale Unie van Namibiese Werkers gedien en was ook parlementslid sowel as adjunkminister van arbeid. Hy word oorleef deur sy vrou en drie kinders.