MTC se notering gedoen vir finansiële sektor se groei

Die Namibiese minister van openbare ondernemings Leon Jooste sê die hoofdoel van die notering van MTC is om die land se finansiële sektor te ontwikkel. Hy sê dat daar op die oomblik baie geld die land verlaat om elders te belê wat nou plaaslik in MTC belê kan word. Talle Namibiërs sal ook deur middel van hulle pensioenfondse en versekering aandeelhouers in MTC word. Volgens Jooste sal dividende wat aan die regering vir sy 51 persent aandeelhouding betaalbaar is, ook groei sou die aandeelprys van die maatskappy groei. Die regering handel nie in aandele nie en met die aankoop van die laaste aandele van MTC vanaf Portugal het die regering alleenaandeelhouer van MTC geword. CRAN het ingevolge die wet opdrag gegee dat 49 persent van MTC aan beleggers verkoop moet word en die maatskappy moet op die effekte beurs noteer.