MPLA werk aan 3 oorsake van Dos Santos se dood, sal nog 1 kies

Angolese gaan op 24 Augustus na die stembus in die land se algemene verkiesing. Media in die buurland berig dat die dood van die voormalige president, Jose Eduardo dos Santos ‘n rol in die ondersteuning wat die MPLA sal kry, speel. Volgens die berigte sê Tchizé dos Santos haar pa is dood as gevolg van depressie omdat hy gemarginaliseer is deur President João Lourenço se nuwe MPLA-regering. Hy het volgens haar opgehou eet. Nou wil die MPLA, as die berigte korrek is, ‘n nuwe weergawe van die oorsaak van sy dood, voorsit. Een is dat hy Covid opgedoen het toe hy sy dogter Isabel in Dubai besoek het. Die tweede is dat die Angolese prokureur-generaal nie gehoor gegee het aan sy verdediging van vervolging nie en hy het in protes opgehou eet. En die laaste is dat hy depressief was omdat sy kinders hom verlaat het in Barcelona en hy is dood van alleenwees. Die regering sal blykbaar ‘n weergawe kies wat openbare sentiment teen Dos Santos se dogters sal draai.