Motorsport vergader vandag oor Oekraïnse krisis

Die president van die Internasionale Federasie van Motorsport, die FIA, Mohammed Ben Sulayem, het vandag ‘n buitengewone vergadering van die wêreld se motorsportraad belê om sake in verband met die voortslepende krisis in die Oekraïne te bespreek. Die Internasionale Olimpiese Komitee het aanbeveel dat atlete van Rusland en Belarus verbied word om aan internasionale geleenthede deel te neem. Die FIA is ‘n lid van die vereniging van internasionale sportfederasies wat deur die Olimpiese komitee erken word. Die spanleier van Formule Een se Haas-span, Gunther Steiner, sê hy wil dringend uitsluitsel hê oor die toekoms van sy Russiese bestuurder, Nikita Mazepin. Formule Een het verlede week die Russiese Grand Prix gekanselleer.