Minister verheug oor geld vir stadions

Die Namibiese sportminister, Agnes Tjongarero, is verheug oor die 20,5 persent verhoging in die begrotingstoekenning aan haar ministerie, wat volgens haar baie sal help om vervalle sportgeriewe regoor die land te laat herleef. Ipumbu Shiimi, die minister van finansies, het tydens sy begrotingsrede aangekondig dat die sport- en jeugministerie ‘n 330,9 miljoen Namibiese dollar ontvang, wat ‘n toename van sowat 51,9 miljoen dollar is. Tjongarero het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê hulle is tans besig met voorbereidings vir die opgradering van die land se vervalle sportstadions.