Minder as 50% van Kaapstad se volwassenes geënt

Die Stad Kaapstad sê hy het sy Covid-19-inentingteikens vir die einde van die jaar nog nie naastenby bereik nie. Minder as 50 persent van die volwasse bevolking het minstens een dosis van die inenting ontvang. Hiervan is 41,28 persent ten volle ingeënt. Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, Patricia van der Ross, sê met die vierde vlaag wat die Wes-Kaap bereik het, word alle volwassenes wat daarvoor in aanmerking kom, aangemoedig om ingeënt te word.