Miller bly aan as Fishrot-regter
Die aansoek deur drie van die Fishrot-lot, James Hatuikulipi, Sacky Shanghala en Pius Mwatelelo, dat regter Kobus Miller moet onttrek as regter in die Fishrot-verhoor, het misluk. Regter Boas Usiku het die aansoek van die hand gewys. Usiku sê die aansoekers poog om Miller voor die hof te daag wat ontoelaatbaar is ingevolge die wetgewing in verband met die hoër hof. Die drie het aangevoer dat Miller bevooroordeeld is en nie hulle saak objektief sal aanhoor nie. Die aantyging kom na hulle dringende aansoek in Desember 2019, kort na hulle arrestasie, om borg te bekom. Miller het die aansoek aangehoor en van die hand gewys.