Menzies se lughawe-aansoek 9 Augustus in die hof

Die aansoek deur Menzies Aviation om die aanstelling van Paragon Investments en Ethiopian Airlines om vrag by Namibiese lughawens te hanteer van die hand te wys, sal op 9 Augustus voor Regter Eileen Rakow voorkom. Die maatskappy se direkteur Ian van Rooyen sê sy maatskappy se bod vir die kontrak is van die hand gewys omdat nie al die bladsye geparafeer was nie en ook omdat sekere dokumente nie gesertifiseer was deur die polisie nie. Volgens Van Rooyen was daardie bladsye deel van die maatskappy se profiel. Hy voeg by dat daar teen hulle gediskrimineer is omdat hulle nie Namibies is nie maar 51 persent van die maatskappy is in plaaslike besit. Hy sê die lughawensmaatskappy het onwettig die tender aan ‘n gesamentlik onderneming wat nie die bepalings nagekom het nie, toegestaan en het ook die wet oortree deur ‘n tender van meer as 25 miljoen Namibiese dollar toe te staan. Die verkrygingsraad moes die tender toegeken het. Die saak word verdedig.