Meerderheid stem ja vir staking

‘n Staking deur staatsamptenare word binnekort verwag nadat die finale telling in die stemmery toon dat 42 216 lede wil staak en ‘n skamele 1 232 was daarteen. Dit is ongeveer sewe jaar sedert die amptenare ‘n verhoging ontvang het en terwyl daar toegegee is tydens Covid dat verhogings nie moontlik is nie, blyk die lede en hul vakbonde nou om sat te wees vir die heersende omstandighede. Die regering het reeds te kenne gegee dat daar nie geld is nie. Hulle het ‘n 9 persent salarisverhoging met ‘n verdere 9 persent op behuisingsvoordele en 10 persent op vervoervoordele geëis. Daar is kommer omdat amptenare geen salaris tydens die staking sal ontvang nie en ekonome meen daar sal nog meer skade aan die ekonomie wees. Landbouminister Calle Schlettwein het die situasie op Twitter betreur en sê die “Namibiese manier” om verskille op te los is nie meer die norm nie. ‘n Lang vennootskap tussen werkers, die regering en Swapo is op die rotse. Hy sê die gemeenskap in die algemeen sal moet betaal vir die geweldige kollaterale skade. Die kinders sal die swaarste getref word, want hul toekoms is op die spel.