Meer as 30 000 Namibiese leerders keer nie terug skole toe ná Covid-pandemie

Ten spyte van pogings om te verseker dat alle Namibiese leerders terugkeer skool toe, toe skole heropen het ná die sluitings weens die Covid-pandemie, kon 30 502 leerders landwyd nie opgespoor word ná heropening nie. Daarbenewens het meer as 4 000 meisies in Namibië swanger geraak terwyl die skole gesluit was. Abhiyan Jung Rana, Unicef se streeks-onderwys-adviseur vir Oos- en Suider-Afrika, het dit vandag onthul by die opening van die Nasionale Konferensie oor Onderwys in die hoofstad. Hy het gesê die streeksituasie is betreurenswaardig en om ‘n ramp wat baie ernstiger is te vermy, is onmiddellike optrede nodig.