Meer as 170-duisend regeringsamptenare in Suid-Afrika kry glo onwettige maatskaplike toelae

Die Suid-Afrikaanse minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het bekendgemaak dat meer as 170-duisend regeringsamptenare in die buurland onwettige maatskaplike toelae kry. In ‘n geskrewe antwoord op ‘n vraag van die IFP-lid in die land se parlement, Liezl van der Merwe, het Zulu ook gesê drie-duisend-400 werknemers van die departement van Maatskaplike Ontwikkeling kry hierdie toelae, asook 153 amptenare van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap. Van der Merwe sê sy is geskok deur die gewetenloosheid van sommige regeringsamptenare in ‘n tyd van ernstige ekonomiese omstandighede in die buurland.