McAfee dood in sel aangetref, dalk selfmoord

Die antivirus sagteware magnaat, John McAfee, is Woensdag dood in ‘n tronksel in Barcelona gevind. Die Departement van Justisie in Katalonië sê alles dui daarop dat die 75-jarige sy eie lewe geneem het. McAfee se dood kom op dieselfde dag wat ‘n Spaanse hof sy uitlewering aan Amerika goedgekeur het waar hy op belasting-verwante aanklagte tereg staan. Media berig die Amerikaanse Departement van Justisie beweer McAfee het belasting ontduik deur sy inkomste in die bank- en kripto-geldeenheid-rekeninge van verskeie begunstigdes te betaal. Hy sou tot 30 jaar tronkstraf ontvang het sou hy skuldig bevind word.