Maureen en Job vra uitstel, moet nog saak beplan

Die adjunkminister van finansies Maureen Hinda-Mbuende se saak teen Job Amupanda kom vandag vlugtig voor regter Collins Parker voor. Die partye vra die hof om die saak tot 24 Januarie uit te stel omdat hulle nog nie kon vergader oor ‘n voorverhoor-verslag nie. Hinda-Mbuende dagvaar Amupanda vir ‘n miljoen dollar in skadevergoeding na hy ‘n plasing oor haar op sosiale media gemaak het. In die plasing sê hy, saam met ‘n foto van haar, “It looks like deputy minister of finance Maureen Hinda during the liberation struggle. Maureen was soo WizWiz. It’s like she won’t think twice about taking a knife out!” Sy sê die publiek sal aflei dat sy graag baklei en gewelddadig is. Die plasing is op 28 Julie verlede jaar gemaak. Amupanda verdedig die saak en sê Hinda-Mbuende is kwaad vir hom omdat sy aangetrokke is tot hom en hy nie tot haar nie.