Matie wat urineer op medestudent se lessenaar, geskors

Die student van die Universiteit Stellenbosch wat in ‘n koshuis op ‘n mede-student geürineer het, is met onmiddellike ingang uit die universiteit geskors. Dit beteken die 19-jarige Theuns du Toit mag nie sy studie voortsit nie en hy mag nie terugkeer na die universiteit nie. Die universiteit sê in sy uitspraak Du Toit is skuldig bevind daaraan dat hy op die 20-jarige Babalo Ndwayana se eiendom geürineer het en dat hy ‘n rassistiese aanmerking gemaak het. Du Toit se prokureur, William Fullard sê hy is geweldig teleurgesteld met die bevinding en het reeds instruksies ontvang om te appelleer.