Masels-uitbreking in Zimbabwe

’n Uitbreking van masels in Zimbabwe het gelei tot die dood van 14 kinders. In ‘n verklaring het Zimbabwe se ministerie van gesondheid gesê 72 gevalle is aangeteken met net nege kinders wat ingeënt is. Met ‘n lae inentingskoers en, in sommige gevalle, geen rekordhouding nie, het die regering sedertdien besluit om ‘n massa-inentingsveldtog te begin in gebiede waar die uitbreking aangeteken is. Kinders tussen die ouderdom van ses maande en 15 jaar word geteiken, in samewerking met die Wêreldgesondheidsorganisie. Die WGO sê byna 17 500 gevalle van masels is tussen Januarie en Maart 2022 in Afrika aangeteken, wat ‘n toename van 400 persent is vergeleke met dieselfde tydperk in 2021. Die skielike toename in masels en ander siektes wat deur entstof voorkom word, word grootliks geblameer aan ontwrigtings deur Covid-19.