Marnus skuif Root verby op ranglys

Marnus Labuschagne van Australië het Engeland se kaptein, Joe Root, aan die bopunt van die Internasionale Krieketraad se kolfranglys vervang. Die 27-jarige voormalige Suid-Afrikaner se eerste honderdtal om die As in Adelaide het Australië gehelp om met 2-0 voor te loop in die reeks van vyf wedstryde teen Engeland, voor die derde Toets wat Sondag in Melbourne begin. Root bly in die tweede plek, met Steve Smith van Australië derde, Nieu-Seeland se kaptein, Kane Williamson lê vierde, en Rohit Sharma van Indië, vyfde op die jongste punteleer.