Maree hoor 1 Okt. oor borg

Die borgaansoek van die vermeende pedofiel Johann Maree, is tot 1 Oktober uitgestel vir finale argumente voor Windhoek-landdros Celma Amadhila haar beslissing maak. Die 50-jarige Maree is verlede jaar in hegtenis geneem op 40 klagte dat hy agt minderjarige seuns tussen 2016 en 2020 verkrag en onsedelik aangerand het. Hy het volgens die staat ook video’s gemaak en dit op die donkerweb geplaas en verkoop. Skokkende en onthullende getuienis is tydens die aansoek gelewer en verskeie ondersoekbeamptes, sowel as vermeende slagoffers het verskyn. Maree het in Junie verlede jaar in ‘n verklaring voor Amadhila gebieg en gesê hy het hulp nodig, maar tydens sy laaste verskyning ’n ommekeer gemaak en gesê hy ontken al die klagte teen hom. Maree is ‘n voormalige polisieman en reservis vir Nampol.