Maradona se mediese personeel word krimineel aangekla

Agt mediese personeel sal teregstaan op klagte van kriminele nalatigheid in die dood van die legendariese Argentynse sokkerspeler Diego Maradona. ’n Regter het ’n strafbare manslagverhoor gelas nadat ’n mediese paneel bevind het Maradona se behandeling was vol “tekortkominge en onreëlmatighede”. Maradona is in November 2020 op 60-jarige ouderdom aan ‘n hartaanval in Argentinië se hoofstad Buenos Aires dood. Hy het vroeër daardie maand tuis herstel van ’n operasie aan ’n bloedklont in sy brein. Verlede jaar het ‘n paneel van 20 deskundiges wat aangestel is om sy dood te ondersoek, bevind Maradona se mediese span het op ‘n “onvanpaste, gebrekkige en roekelose wyse opgetree”. Dit het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die sokkerspeler ‘n beter kans op oorlewing sou gehad het met voldoende behandeling in ‘n toepaslike mediese fasiliteit, volgens die hofuitspraak. Hy is destyds tuis behandel.