Man wil knaende kat skiet, wond beeswagter

Die Namibiese polisie in die Oshana-streek ondersoek ‘n saak van die nalatige hantering van ‘n vuurwapen nadat ‘n 71-jarige jarige verdagte ‘n kat doodgeskiet en ‘n beeswagter gewond het. Volgens Nampol wou die verdagte van die Okapya-nedersetting die kat skiet wat hom knaend by sy huis pla. Hy het ‘n enkele skoot uit sy haelgeweer afgevuur en die kat doodgeskiet, maar haelkorrels het ook die 25-jarige beeswagter getref. Die slagoffer het ligte wonde aan sy bors opgedoen en is na die Onandjokwe-hospitaal geneem waar hy behandel en ontslaan is. Die haelgeweer is in die hande van Nampol om as bewysstuk in die saak gebruik te word. Die slagoffer het nie ’n saak aanhangig gemaak nie en verdagte is nie in hegtenis geneem nie.