Man verloor N$1m dagvaardiging teen Nampol, NDF

‘n Man wat die Namibiese polisie en weermag vir ‘n miljoen Namibiese dollar in skadevergoeding gedagvaar het, het die saak verloor. Taleni Manja sê hy is deur lede van die sogenaamde Operation Hornkranz op 31 Desember 2018 aangerand. In sy stukke sê hy soldate het hom uit sy voertuig geruk by ‘n vier-rigtingstop in Babylon in die hoofstad op Oujaarsaand en geskop en geslaan. Owerhede het in die hof gesê geen span was op daardie tyd in daardie gebied ontplooi nie. Regter Orben Sibeya het bevind dat Manja wel aangerand is maar, dat hy nie sy aanvallers kon identifiseer as deel van die operasie nie, en dus die saak van die hand gewys. Manja moet al die regskostes betaal.