Man dood na gassilinder ontplof

‘n Namibiese man is dood nadat ‘n gassilinder by sy werksplek naby Kapps Farm ontplof het. Die 37-jarige Jacques Kruger het vanoggend omstreeks half-nege by die werkwinkel van D. Dresselhaus Truck and Trailer Repair op die plaas Hoffnung, sowat agt kilometer vanaf Kapps Farm, die kompressor en gassilinder van 1 000 liter aangeskakel wat ontplof het. Volgens die Namibiese polisie se nasionale woordvoerder, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi was die nooddienste na nege-uur op die toneel en het Kruger dood verklaar. Shikwambi sê niemand anders is in die voorval beseer nie en die polisie se ondersoek duur voort.