Maja-kano opgediep in Mexiko

‘n Hout-kano wat glo meer as ‘n 1 000 jaar oud is, is in die suide van Mexiko opgediep. Die land se oudhede-instituut sê die 1,6 meter lange kano is waarskynlik deur die mense van die antieke Maja-kultuur gebruik. Dit is gevind tydens argeologiese opgrawings wat saamgaan met die bou van ‘n groot nuwe toerisme-spoorwegprojek. Die uiters rare kano is in ‘n amper perfekte toestand in ‘n varswaterpoel aangetref. Dit is ontdek naby die ruïne van wat eens ‘n belangrike Maja-stad was wat gespog het met tempels met ingewikkelde kerfwerk en enorme piramides.