Lühl-egpaar moet wag tot Oktober

Die Namibiese hoërhof regter Thomas Masuku het uitspraak in die aansoek van Phillip Lühl en sy man Guillermo Delgado vir Namibiese burgerskap vir hulle minderjarige seun Yona te kry uitgestel tot 13 Oktober vanjaar. Die saak sloer reeds sedert 2019. Lühl is ‘n Namibiese burger en sy man, Meksikaans. Yona is deur middel van ‘n surrogaat gebore. Die egpaar het onlangs die nuus gehaal met hulle tweeling dogters wat in Suid-Afrika ook deur middel van ‘n surrogaat gebore is en eers toegang tot Namibië geweier is. Gay-huwelike word nie in Namibië erken nie. Die Equal Rights Movement sê dit is uiters teleurstellend en die familie se kinders is tans steeds sonder enige tuisland.