LPO en Hartlief doen voorlegging aan handelsministerie oor skaapsektor

’n Afvaardiging van die Lewendehawe Produsente Organisasie en Hartlief het op versoek van die departement van nywerheidsontwikkeling in die Namibiese handelsministerie ‘n voordrag gedoen oor die skaapwaarde-kettingstudie wat onlangs afgehandel is. Die Vleisraad van Namibië het ook die vergadering bygewoon. Die studie is gedoen op aanvraag van skaapprodusente wat die gevaar van slegs een uitvoermark uitgewys het. Die terugvoer aan die span van die ministerie was dat die studie belowende resultate opgelewer het en dat daar ’n moontlikheid van verskeie uitvoermarkte is wat ontsluit kan word. Volgens die Namibiese Landbou-unie is die boodskap duidelik deur beide die LPO en Hartlief oorgedra dat langtermyn beleidsekerheid nodig is om genoegsame herstel en groei in die skaapsektor teweeg te bring. Dit volg ná die Kleinvee-bemarkingskema wat in 2004 geïmplementeer is met die doel om plaaslike waardetoevoeging te stimuleer, klaaglik misluk het.