LPM nader hof oor parlementêre komitee

Plaaslike media berig dat die twee LPM-leiers, Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb die hoërhof nader oor die beslissing dat die parlementêre staande komitee hulle gedrag in die parlement in April kan ondersoek. Die twee meen die besluit is onwettig omdat dit by ‘n onbehoorlike saamgestelde vergadering gemaak is. Die twee voer aan dat die Speaker, professor Peter Katjavivi, nie deel van die vergadering kon gewees het nie en dat die party die reg gehad het om ‘n ander parlementslid te kies om hom te verteenwoordig. Nie een van die reëls is nagekom nie. Die twee is tydens President Hage Geingob se staatsrede in April uit die huis verwyder na chaos ontstaan het. Daarna is verskeie hofaansoeke gebring en die twee is ook in September deur die komitee aan wangedrag skuldig bevind.