Litiumerts-uitvoere steeds in die nuus

Die Namibiese regering kon moontlik miljoene dollar se inkomste verloor het met die uitvoer van 75 000 se litiumerts na China onder die dekmantel van toetsdoeleinders. Die Chinese firma Xinfeng Investment het verlof gekry het om 135 000 ton erts op die manier uit te voer maar, tot dusver gaan die erts na sy aanleg in China vir sy eie gebruik. Die minister van myne en energie, Tom Alweendo sê die regering het met 2 miljoen Namibiese dollar in tantième verdien vir die uitvoere. Volgens globale data het die prys vir litiumkarbonaat jaar op jaar met 432 persent gestyg en meer as 1,1 miljoen Namibiese dollar per metrieke ton behaal van ‘n gemiddeld van 190 000 dollar ses jaar gelede. Litium is ‘n kritieke komponent in herlaaibare litium-ioonbatterye, wat in die meeste persoonlike elektronika en elektriese voertuie gebruik word. Alweendo sê die ministerie se amptenare wat verantwoordelik is vir die administrasie van uitvoerpermitte het nagelaat om met die maatskappy ooreen te kom oor die totale hoeveelheid erts wat vir toetsdoeleindes uitgevoer moes word.