Le Mirage soek interdik teen twee voormalige werknemers

Le Mirage Resort Spa and Safaris het ‘n dringende aansoek vanoggend voor regter Boas Usiku om ‘n interdik teen twee voormalige werknemers te bekom. Volgens Nel de Jager, operasionele bestuurder, dreig Jolin Merlin Plaatjies en Zinedane Esau om ‘n vals, en negatiewe resensie oor Le Mirage op Tripadvisor te plaas. De Jager se eis is redelik uitgebrei maar hy sê beide respondente het vir die lodge gewerk. In een geval is ‘n drie-maande kontrak nie hernu nie en in die ander geval is een afgedank as gevolg van diefstal. De Jager sê verder daar is vieslike klagte teen sy bestuurder, die tweede aansoeker, Willem Danster, van verkragting en seksuele teistering gelê wat op niks uitgeloop nie. Hy voer ook aan dat die twee die lodge en sy bestuur op sosiale media belaster, met talle bewysstukke wat ingedien is. Tot op hede is geen antwoord van die twee respondente ontvang nie en die prokureur vir die aansoekers sê stukke is wel aan die twee gestuur en afgelewer.