Landbou-insette skiet die hoogte in

Namibië voer die meeste van sy landbou-insetprodukte in, daarom beïnvloed enige stygings in brandstofpryse die landingsprys van insette soos ureum, fosfaat, geelmielies, sojabone, negatief. Volgens die Namibiese Landbou-unie het die binnelandse prys van ureum met 123 persent in 2020 en 2021 gestyg terwyl monokalsiumfosfaat, of P21 met 64,1 persent gestyg het. In Namibië het die geelmielieprys ’n groei van sowat 13,5 persent getoon. Hierdie stygings, tesame met stygings in brandstofpryse en ander faktore, het agri-inflasie opwaarts gedruk van 3,1 persent in die vierde kwartaal van 2020 tot 10,8% in die vierde kwartaal van 2021. Die NLU sê landbouprodusente behoort voortaan ’n toename in plaasuitgawes soos veevoer, toerusting en onderdele, voedsel en vervoerdienste te verwag.