La Palma-vulkaan: 6 000 reeds ontruim

Ongeveer 6 000 mense van die eiland La Palma in Spanje se Kanariese Eilande is na veiligheid geneem ná ‘n vulkaan-uitbarsting. Die vulkaan in die Cumbra Vieja-nasionale park het Sondag uitgebars en woed steeds voort. Twee strome lawa maak nou hulle pad na die see toe en 150 huise is reeds verwoes. Die president van die eilandgroep, Angel Victor Torres, sê geen ongevalle is aangemeld nie en terwyl talle toeriste die gebied verlaat, word daar oorweeg om ‘n spesiale pakket aan te bied vir besoekers om die uitbarsting van ‘n veilige afstand te kan waarneem.