Krismis agter tralies vir Gustavo

Fishrot-beskuldigde Ricardo Gustavo, wat in Desember verlede jaar deur regter Herman Oosthuizen in die hooggeregshof op borgtog van 800 000 Namibiese dollar vrygelaat is, gaan terug tronk toe nadat die appèl teen sy vrylating vanoggend in die Hooggeregshof geslaag het. Die kern van die staat se saak was dat regter Oosthuizen dit uit die oog verloor het dat die staat bewyse het dat Gustavo deel van ‘n sindikaat was wat ‘n plan uitgevoer het om toegang tot Namibiese visvangkwotas te kry en wat hulself verryk het deur kwotagebruiksfooie wat deur die Samherji-groep van maatskappye uit Ysland betaal is. Die adjunk-aanklaer-generaal Ed Marondedze het ook gesê dat, met Gustavo wat voorheen onsuksesvol aansoek gedoen het om borgtog te kry, was daar geen rede vir die aanvanklike weiering van sy versoek om borgtog om deur Oosthuizen verander te word nie. Appèlregters Sylvester Mainga, Dave Smuts en Elton Hoff het die uitspraak vanoggend gelewer.