Konstabel Gilbert Owoseb verskyn vir moord op mede-polisiebeampte

Konstabel Gilbert Owoseb wat aangekla word van die moord op ‘n mede-polisiebeampte, sersant Nestor Usebui, is vandag borg geweier tydens sy eerste verskyning in die Windhoek-landdroshof in Katutura.
Die 28-jarige Owoseb het Usebui by ‘n kroeg in Katutura noodlottig in die kop geskiet. Jermaine Muchali, prokureur van Owoseb, het gesê die konstabel het beserings opgedoen, maar geen foto’s of bloedmonsters is geneem nie. Muchali het dringend versoek dat foto’s en bloedmonsters geneem word en bygevoeg dat die beserings met die tyd sal vervaag. Muchali het ook gevra dat Owoseb by die Seeis-polisiestasie aangehou word aangesien hy ‘n polisiebeampte is. Die beskuldigde sal op ‘n latere datum ‘n formele borgtogaansoek doen en die saak word tot 28 September uitgestel.