Koebaai gelode brandstof, Greenpeace juig

Die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram het aangekondig dat gelode petrol van gister af nie meer beskikbaar is nie. Die omgewingsdrukgroep Greenpeace sê dié wêreldwye prestasie volg nadat ‘n raffinadery in Algerië opgehou het om die giftige bymiddel by petrol te voeg. ‘n Klimaat- en omgewingsaktivis van Greenpeace Africa, Thandile Chinyavanhu, sê gelode brandstof het die ekostelsel benadeel en ernstige gesondheidstoestande en selfs die dood veroorsaak. Sy sê die uitfasering van gelode petrol in Algerië is ‘n bewys van die wêreld se vermoë om ‘n gemeenskaplike doelwit te bereik.