Klimaat: 60% jongmense sê ons is gedoem

‘n Nuwe wêreldwye peiling illustreer die omvang van angstigheid onder jongmense oor klimaatsverandering. Die opname in tien lande is deur die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk gelei en sluit die menings van 10 000 jeugdiges tussen 16 en 25 jaar in. Die peiling het bevind 60 persent van die jeug dink die mensdom is gedoem, met twee-derdes wat sê hulle is bang, kwaad en hartseer. Jongmense is ook meer huiwerig om kinders te hê met vier uit tien wat onseker is of hulle ‘n nageslag wil hê.