Kinders van Angolese vlugtelinge word geregistreer

Die goewerneur van die Omusati-streek Erginus Endjala sê dat 27 kinders aan Angolese vlugtelinge wat skuiling in sy streek soek, tot op hede gebore is. Hy voeg by dat daar nog 86 swanger vroue in die groep is. Die groep sê hulle kan nie terugkeer huis toe nie omdat die heersende droogte oorlewing onmoontlik maak. Daar is ook ongeveer 1 500 kinders onder die ouderdom van 12 in die groep. Almal sal geregistreer word en volgens Margaret Kalo, woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake, sal hulle met volle nie-Namibiese geboortesertifikate voorsien word. Volgens Endjala is daar ongeveer 2 500 Angolese burgers in die kamp maar, hulle word daagliks meer. Die Angolese konsulaat in Oshakati sal na verwagting die week die vlugtelinge besoek en registreer. Repatriasie van die groep word nog bespreek.