Kimberley-proses oorweeg Rusland se diamante

Die plenêre vergadering van die Kimberley-proses is tot Vrydag in Gaborone, Botswana, aan die gang en daar sal na verwagting besluit word of Russiese diamante as konflikjuwele verklaar moet word of nie. Die Kimberley-proses verenig administrasies, burgerlike samelewings en nywerhede in die vermindering van die vloei van konflikdiamante en Rusland lei tans ‘n inval in die Oekraïne en diamante is ‘n groot deel van die land se begroting en ekonomie. Vrese is dat diamantinkomste die oorlog finansier. Die algehele verbod op Russiese edelstene sal ‘n swaar slag wees vir ‘n land wat reeds onder die radar handel dryf. Buite Rusland het Alrosa, een van die land se diamantprodusente, bedrywighede in Zimbabwe, Angola en Botswana en onderhandel ook met Sierra Leone vir die moontlikheid om daar te ontgin.