Kawana sê wapensmokkelary na Angola is NDF, Nampol wapens

Die Namibiese minister van binnelandse sake, dr. Albert Kawana sê die wapens wat van Namibië na Angola gesmokkel word, is van die polisie en die weermag. Hy wou nie verdere inligting verskaf nie maar het aan plaaslike media bevestig dat die wapens nie beskikbaar is aan die breë publiek nie. ‘n Ondersoek na die oorgrens smokkelary van wapens is twee weke gelede deur polisie-hoof luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga en sy Angolese eweknie van stapel gestuur en volgens Kawana vorder dit goed. Hy het onderneem dat die inhoud openbaar gemaak sal word. Blykbaar word senior Angolese amptenare met die smokkelary gekoppel en hulle vorm deel van die ondersoek. Ndeitunga het onlangs gesê dat van die verdagtes ‘n vervalste handtekening van Angolese owerhede gebruik om die wapens oorgrens te neem. Kawana sê die polisie se spesiale reserwemag is reeds by die grens ontplooi om die misdaad aan te spreek.